Is Verhoudingsterapie dalk die ding vir jou in 2027?

Loading player...
Vir 2027 skop Pulane Nel-Sekepe en kliniese sielkundige en verhoudingspesialis Madeleen Steenkamp die jaar af met ’n paar wyse woorde vir paartjies in Sentraal-Suid-Afrika: Moenie wag totdat iets verkeerd is voordat jy aandag aan jou verhouding gee nie.

Dink 'n bietjie daaroor: Al is jy nie siek nie, gaan jy steeds vir ’n jaarlikse mediese ondersoek. Al is jou motor nie stukkend nie, neem jy hom vir ’n diens. En selfs wanneer jou rekenaar nog perfek werk, sorg jy dat die sagteware opgedateer word.

Maar wat van jou verhouding?

Ons verhoudings is tog soveel meer werd as ’n motor of ’n rekenaar. Waarom wag ons dan dikwels totdat daar probleme is voordat ons bereid is om daarin te belê?

Om saam met jou lewensmaat ’n sielkundige of verhoudingspesialis te gaan spreek, is nie iets om voor bang of skaam te wees nie. Inteendeel, dit kan juis ’n positiewe stap wees om julle verhouding na ’n volgende vlak te neem. Soms kan die regte raad, nuwe insigte en die aanleer van beter kommunikasievaardighede ’n verhouding selfs mooier en meer vervullend maak as wat julle ooit gedink het moontlik is.

Verhoudingsorg gaan immers nie net oor die herstel van dit wat stukkend is nie. Dit gaan ook daaroor om dit wat reeds goed is, nog beter te maak.

Dalk is 2027 juis die jaar waarin jy en jou maat besluit om julle verhouding ook ’n jaarlikse diensbeurt te gee. Maak tyd vir mekaar, kry professionele raad waar nodig en wees bereid om saam te leer en te groei.

Want ’n gesonde, gelukkige verhouding gebeur nie sommer vanself nie – dit is iets waaraan ’n mens voortdurend bou en waarin jy moet bly belê.
11 Nov Afrikaans South Africa Leisure · Personal Journals

Other recent episodes

Moet jy praat of stilbly as iets pla?

As jou maat iets doen wat jou pla, of iets wat jy voel verkeerd is, moet jy daaroor praat of eerder stilbly? Dit is ’n moeilike onderwerp wat Madeleen Steenkamp en Pulane Nel-Sekepe tydens Truth Thursday bespreek. Dit kan dalk iets kleins wees wat jou irriteer. Jy besluit om dit…
30 Oct 9 min

Hoeveel 'baggage' sleep jy saam na jou volgende verhouding?

Madeleen Steenkamp, kliniese sielkundige van Bloemfontein wat in verhoudings spesialiseer, gesels met Pulane Nel-Sekepe oor ’n onderwerp wat al dikwels in gesprekke oor nuwe verhoudings opduik: daardie sogenaamde “baggage” wat ’n mens uit ’n vorige verhouding kan saamdra. Maar hoe weet jy of jy nog emosionele seer uit die verlede…
28 Oct 8 min

Moenie ophou om 'kêrel en meisie' te wees wanneer julle ouers word nie

Hoe beïnvloed kinders ’n verhouding of huwelik? Dit is die vraag wat Pulane Nel-Sekepe aan verhoudingskenner en kliniese sielkundige Madeleen Steenkamp stel in dié gesprek. Madeleen beklemtoon hoe belangrik dit is dat paartjies nie toelaat dat hul identiteit as pappa en mamma hul verhouding as kêrel en meisie heeltemal oorneem…
27 Oct 7 min

Emosionele vs Fisiese behoeftes

"Hy sorg vir haar hart – sy sorg vir sy lyf" Wyse woorde van Madeleen Steenkamp tydens haar gesprek met Pulane Nel-Sekepe in dié episode van Truth Thursday. Madeleen verduidelik hoe mans fisiese aanraking dikwels as ’n uitdrukking van liefde ervaar, terwyl vroue se behoefte aan emosionele verbinding soms eerste…
26 Oct 6 min

Menopouse – ’n nuwe fase wat begrip en ondersteuning vra

Pulane Nel-Sekepe vra vir Madeleen Steenkamp om ons meer te vertel oor menopouse – ’n natuurlike, maar dikwels uitdagende fase waardeur baie vroue gaan. Hoewel sommige vroue min simptome ervaar en ander dit baie intens beleef, is een ding seker: hormoonveranderinge kan ’n groot invloed hê, nie net op ’n…
8 Sep 7 min